Alles wat IN is op die verhoog, begin by Toyota Innibos

As daar ooit ’n tyd was om alles wat IN is eerstehands te beleef, is dit tydens vanjaar se Toyota Innibos vanaf 2 tot 5 Julie.

Verkope van produksiekaartjies open Donderdag, 30 April en feesgangers word genooi om hulself te verdiep in die wêreld van teater.

Naranda Leeuwner vertel vir Sonop Ontbyt waarna feesganders alles uit kan sien.

Luister hier:

Vanjaar bied die fees heelwat uit-die-boks-uit produksies. 

Enig in sy soort, is Pampelmoesmampoer.

Met plaaslike talent sowel as ander bekendes gaan Adriaan van As, Eugené Wait, Jana Fischer, Francois Jacobs, Matie van Graan, Tiaan Slabbert, Steffie le Roux, Luka Wait en ’n geheimsinnige gasverskyning, die gaste laat gons.

Dis ’n unieke plekspesifieke teaterervaring waar drie gesinne se verweefde lewens en lank-verborge geheime stadig ontrafel.

Dit vind in verskillende huise in The Rest-landgoed plaas so feesgangers beleef die storie uit uiteenlopende hoeke.

Geen twee ervarings is dieselfde nie en die gehoor word deel van elke toneel. 

Innibos spog met ’n Nati-produksie, Sterstof, met Ashley de Lange, Ludwig Binge en Wessel Pretorius asook Sirkus L’amour en die Alewige Getoer met Wynand van Vollenstee, Thiart Li, Marissa Claasen en Zoricke Snyman wat by die fees debuteer.

Frank Opperman bring vir oulaas vir Reünie, ’n aangrypende en humoristiese blik op ’n skoolreünie waar ou klasmaats hul verlede en ’n gedeelde tragedie uiteindelik konfronteer.

Hy is ook te sien in Crybaby saam met Nicole Holm, Wian Taljaard, René Cloete en Gantane Kusch, ’n absurde tragikomedie oor ’n kind wat skielik die gewig van die wêreld se realiteite moet dra.

Feesgangers kan ook uitsien na produksies soos Die Ander Dogter met Sandra Prinsloo, KarooKeur met Deon Meyer (verteller en teks) en Coenie de Villiers (klavier, sang en musiek), en Het van Verlangekraal uit Leon van Nierop se pen.

Amanda Strydom, Je-ani Swiegelaar en Coenraad Rall (klavier) is te sien in Tillie Matilda wat die lewe van twee straatvroue uitbeeld en ‘n groot treffer was by die onlangse KKNK.

n Opwindende nuwe leefstylproduksie is die South African Institute of Architects (SAIA) Mpumalanga se Argitektoniese Toer met Orbic-, Cecilia- en GIITD-argitekte.

Dis ’n eksklusiewe, gekureerde toer wat feesgangers neem na van die Laeveld se mees inspirerende huise.

Argitekte deel hul visie en wys die nuutste neigings in volhoubare en stylvolle binnenshuis-buiteleef ontwerpe.

Kaartjies en die volledige program is by innibos.co.za beskikbaar.