Voormalige sekuriteitspolisiebeamptes aangekla weens apartheid-era moord

Drie voormalige lede van die destydse sekuriteitspolisie het gister voor die Nelspruit-landdroshof verskyn weens die moord op Andriano Louis Bambo in Maart 1991 naby Matsulu.

Hy was ‘n Mosambiekse burger en ’n sekuriteitspolisie-informant gedurende die apartheidsera. 

Izak Johannes Engelbrecht (87), destyds ‘n generaal; Ivor Wessel Conning Human (82), ‘n brigadier; en Johan Petros Koekemoer (68), voormalig ‘n luitenant-kolonel word aangekla van die moord wat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aanvoer beplan was.

Die hof het borgtog van R5 000 aan elk toegestaan.

Die saak is uitgestel tot 23 Februarie sodat dit na die hooggeregshof oorgedra kan word.

Volgens Monica Nuyswa, die NVG-woordvoerder in Mpumalanga, vorm die saak deel van breër pogings om uitstaande apartheidstydperk-misdade aan te spreek wat verband hou met sake van die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK).

Sy sê dit is ook een van die sake wat in die konteks van die werk rondom die Khampepe-kommissie oorweeg word.

Luister:

“Aanspreeklikheid vir ernstige misdade bly fundamenteel vir die regstaat en vir Suid-Afrika se voortdurende strewe na waarheid, geregtigheid en versoening,” sluit sy af.