Borgtog toegestaan aan verkragting-beskuldigde in Nelspruit

Die bekende 32-jarige figuur in plaaslike gesondheidsorg- en fiksheidskringe wat aangekla word weens seksuele aanranding en verkragting is borgtog van R2 000 toegestaan in die Nelspruit-landdroshof.

Die saak is uitgestel tot 15 Oktober vir verdere ondersoek.

Sy borgvoorwaardes sluit in dat hy twee keer per week by die Nelspruit-polisiestasie moet aanmeld.

Hy mag ook nie direk of indirek met die klaer of slagoffer kommunikeer nie en alle voorwaardes van ‘n bestaande beskermingsbevel bly in plek.

NVG bevestig aanklagte teen bekende Nelspruit-figuur oor beweerde verkragting, 16 September 15:54

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het bevestig dat die bekende 32-jarige figuur in plaaslike gesondheidsorg- en fiksheidskringe wat Maandag in die Nelspruit-landdroshof verskyn het op aanklagte van seksuele aanranding ook van verkragting aangekla word.

Die beskuldigde mag nie geïdentifiseer word tot hy in ‘n hof gepleit het nie.

Monica Nyuswa, die NVG-woordvoerder in Mpumalanga, sê die voorvalle met die 16-jarige slagoffer het na bewering op twee verskillende geleenthede tussen Januarie en Februarie vanjaar plaasgevind. 

Die saak is uitgestel tot Vrydag vir ‘n formele borgaansoek.