Drie mense, insluitend twee toeriste van die Verenigde Koninkryk, het gesterf in ‘n botsing waarby verskeie voertuie op die N4 naby Ngodwana betrokke was.
Volgens die Mpumalanga Departement van Gemeenskapsveiligheid se Zandile Mavuso het ‘n vragmotor op die Kaapsehooppad deur die kruising jaag en met drie voertuie wat op die N4 was gebots.
Dit sluit twee bakkies en ‘n sportnutsvoertuig in.
Die Britse besoekers was die bestuurder en passasier van die sportnutsvoertuig en is saam met die een bakkiebestuurder op slag oorlede.
Die ander twee bestuurders is ernstig beseer en na Kiaat-hospitaal gehaas.
Luister:
Nooddienste is tans op die toneel en ‘n ondersoek is aan die gang.
Die pad was om 15:00 steeds gedeeltelik gesluit.
Die LUR, Jackie Macie, het sy innige meegevoel met die families van die oorledenes betuig en die beseerdes ‘n spoedige herstel toegewens.





