Rekord aantal inskrywings vir Saterdag se Elands-marathon
Written by Mireille on February 26, 2025
Die TRACN4 Elands-marathon wat Saterdag plaasvind het vanjaar ‘n rekordgetal inskrywings met die finale aantal hardlopers wat tot ‘n yslike 5 122 toegeneem het.
Dit is meer as 1 500 meer as in 2024.
Die ikoniese wedloop, wat in 2022 sy terugkeer tot die resieskalender gemaak het, bied 42,2 km, 21,1 km en 10 km wedlope en word as een van die vinnigste kwalifiseerders vir die Comrades- en Two Oceans-marathons beskou.
Die marathon begin by Laerskool Oosterlijn in Emgwenya (Waterval Boven). Almal eindig by die Sappi Skills Training Centre in Ngodwana.
Ongeveer 3 500 hardlopers sal hul wedloop in Emgwenya begin – wat verkeersuitdagings sal veroorsaak en vanaf 03:15 tot 12:00 sal die roete volledig gesluit wees met geen verkeer wat vanaf die ooste en weste op die pad sal kan kom nie. N4-verkeer sal via Schoemanskloof herlei word.
Die organiseerders, Nedbank LVCC-hardloopklub, het inwoners op die roete versoek om so ver moontlik van die pad af te bly vir die duur van die wedloop.
“Ons weet dit is ‘n groot ongerief, maar ons voel dat dit die hele vallei bevoordeel, met verblyf en petrol- en kosverkope,” sê Beth Bloch van die klub.
“Dit stel die vallei ook bekend aan inwoners van Gauteng wat in die toekoms nuwe besigheid na die gebied kan bring.
“Hierdie wedloop lok hardlopers van die hele land, en ons kan dit slegs suksesvol aanbied met almal se samewerking.”
Sien ook: KLCBT hou inligtingstoer