SANParke verwelkom skuldigbevinding in dekade lange renosterstropery-saak

SANParke het die skuldigbevinding van ‘n voormalige Krugerwildtuin-streekbewaarder Rodney Landela en voormalige staatsveeartstegnikus Kenneth Mochocho verwelkom, op aanklagte van die onwettige jag van ‘n witrenoster in ‘n beskermde gebied, sowel as die besit van ‘n vuurwapen met die doel om ‘n misdaad te pleeg. 

Die saak dien al ongeveer tien jaar voor die howe. 

Vier ander aanklagte, insluitend die diefstal van die renosterhorings, sameswering, peuter met bewysstukke en ontsnapping uit aanhouding is teruggetrek. 

SANParke sê die uitspraak is ‘n beduidende oorwinning in die stryd teen wildlewemisdaad en die beskerming van Suid-Afrika se natuurlike erfenis.

Die organisasie het sy waardering teenoor die Nasionale Vervolgingsgesag, ondersoekers, wetstoepassingsagentskappe, getuies en alle individue wat bygedra het om te verseker dat geregtigheid uiteindelik geskied het, uitgespreek.

Landela en Mochocho is in Julie 2016 gearresteer. 

Daily Maverick berig Landela, wat destyds 34 jaar oud was, het ‘n loopbaan van 15 jaar by SANParke opgebou en was so hoog geag dat hy beskou is as ‘n potensiële toekomstige leier van die veldwagterkorps en ‘n waarskynlike kandidaat vir die pos van hoofveldwagter.

Vonnisverrigtinge is vir Vrydag geskeduleer.