Nege vermeende onwettige mynwerkers in Schoemanskloof aangekeer

Die Mpumalanga MEC vir Gemeenskapsveiligheid, Jackie Macie, het die arrestasie van nege verdagtes wat vermoedelik betrokke is by onwettige mynbouaktiwiteite in die Mashobodo-gebied in Schoemanskloof Saterdag verwelkom. 

Die verdagtes, almal Mosambiekse burgers, is in hegtenis geneem tydens Operasie Vala Umgodi – ’n multidissiplinêre operasie wat gemik is op die bekamping van onwettige mynbou. 

Dit kom na die N4 Schoemanskloof-pad verlede week verskeie kere gesluit is weens skietery tussen verskillende groepe vermeende onwettige mynwerkers waarna die liggame van twee mans gevind is.

Lees meer: Tweede liggaam ontdek na skietery in Schoemanskloof

Die verdagtes sal aangekla word van onwettige mynbouaktiwiteite en die besit van gouddraende materiaal asook toerusting en sal binnekort in die hof verskyn.