Tweede liggaam langs N4 ontdek na skietery

Nog ‘n liggaam is vanoggend langs die N4 Schoemanskloof ontdek, na ‘n skietery gisteraand. 

Die eerste liggaam is gisteroggend gevind.

Daar word vermoed dat dit verband hou met onwettige mynwerkers in die area. 

‘n Skietery het owerhede ook Dinsdagoggend genoop om dié roete tydelik te sluit vir verkeer. 

Volgens Moeti Mmusi, die woordvoerder van die Mpumalanga Department van Gemeenskapsveiligheid, moes die pad ook gisteraand tussen ongeveer 18:30 en 20:10 gesluit word na skote geklap het. 

Die pad was vanoggend ook gesluit vir verwerking van die toneel. 

Die Mpumalanga polisie se woordvoerder, Donald Mdhluli sê die man is nog nie geïdentifiseer nie.

Luister:

Die Kruger-Laeveld Kamer vir Sake en Toerisme (KLCBT) het ook sy kommer uitgespreek dat die konflik padgebruikers of bystanders skade kan berokken.

Hulle het die Premier, Mandla Ndlovu, gevra om president Cyril Ramaphosa se nader met die versoek dat hy dit tot ‘n nood- of ramptoestand verklaar en die weermag ontplooi. 

Oupa Pilane van die KLCBT het ook ‘n beroep op Ndlovu gedoen om drastiese stappe te doen om die bedreiging hok te slaan.

Hy sê toerisme hang van vertroue af en vertroue verg veiligheid. 

Die VF Plus het ook die gewelddadige optrede veroordeel.

Carel Pienaar, die party se provinsiale leier, sê dit ontwrig die Laeveld se ekonomie, handel en toerisme ernstig.

Die VF Plus het die krisis reeds in die provinsiale wetgewer geopper en het sy parlementslid vir polisiesake versoek om dit dringend met die minister van polisie op te neem.

Die party eis ook ’n daadwerklike en omvattende strategie, insluitend ’n gespesialiseerde taakspan. 

*Hierdie artikel is sedert oorspronklike publikasie geredigeer om addisionele inligting by te werk soos ontvang. 

Liggaam ontdek na skietery in Schoemanskloof, 30 September 11:55

Die liggaam van ‘n man is vanoggend by Mashobote naby Schoemanskloof gevind.

Volgens Donald Mdhluli, ‘n woordvoerder vir die Mpumalanga-polisie, volg dit op berigte van skietery in die area gister, waarby beweerde onwettige mynwerkers betrokke was.

Die N4 was vir ure weens die beweerde skietery gesluit.

Mdhluli sê toe die polisie gister op die toneel aankom, is slegs bloedvlekke gevind.

Twee lewendige patrone en ‘n leë magasyn vir ‘n AK-47-geweer is ook gekonfiskeer.

Die liggaam is deur ‘n lid van die gemeenskap ontdek.

Die oorsaak van dood en die man se identiteit is tans onbekend.

Intussen het die LUR vir Gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, Jackie Macie, die voorval en padsluiting veroordeel.

Die departementele woordvoerder, Moeti Mmusi:

Luister: