Verkiesing 2026: ANC verloor steun in Mpumalanga

Mpumalanga se verkiesingsuitslae na die plaaslike regeringsverkiesing is in. 

Die ANC het direkte beheer van slegs drie munisipale rade behou. 

In Mbombela (Nelspruit, Barberton, Witrivier, Hazyview) het die ANC se steun van 65,21% tot 47,94% gedaal, en is daar geen volstrekte meerderheid wat sonder ‘n koalisie ‘n plaaslike regering kan vorm nie. 

Die DA se steun het gegroei en die party se setels vermeerder van 12 tot 14. Daarmee is hy die tweede grootste party in die munisipaliteit, voor die EFF wie se setels van 14 tot 11 verminder het. 

Partye wat vir die eerste keer gestaan het, het ook hul merk gemaak: Die Service Delivery Party (SDP) het agt setels, MK vier, die SAKP twee en ActionSA twee. 

Die VF+ het een addisionele setel gewen en het nou vier. Die ATM en ACDP behou elkeen hul enkele setels in die raad. 

In Bosbokrand wen die ANC 63,51% van die stem met die SAKP en EFF wat onderskeidelik 10,45% en 8,65% op hulle kon verenig. 

Buiten Bosbokrand is Nkomazi en Albert Luthuli (Carolina) die enigste munisipaliteite waar die ANC ‘n volstrekte meerderheid kon behou. 

In Nkomazi (Malalane, Komatipoort) werf hy 53,98% (af van 72,75% in 2021) van die steun, gevolg deur die EFF met 27,26% (op van 13,24%) en die DA met 5,91%. 

In Thaba Chweu (Lydenburg, Graskop, Sabie) het die ANC se steun ook tot onder 50% gedaal tot 41% om 12 setels in die raad te verower. Die DA het vyf setels, die EFF vier en die SDP, VF+, SAKP, MK, AUM en ActionSA een elk. 

Provinsiaal het die nuutgestigte SDP 41 raadsetels verower en die meerderheid in Victor Khanye-munisipaliteit (Delmas) behaal, met 39% van die stemme.

MK lei in Mkhondo (Piet Retief) met 41%. 

Die SAKP het 26 setels gewen regoor die provinsie.

Die EFF se steun het gedaal tot 77 raadsetels (10,44%) vanaf 126 setels (15,21%) in 2021. 

Die DA se provinsiale leier, Jane Sithole, het ondersteuners bedank dat hulle hul vertroue in die party geplaas het en dit die tweede grootste party in Mpumalanga gemaak het na die ANC wat 43,65% van die algehele stem ontvang het. 

Sy sê die DA het al sy wyke behou en nege bygekry in Nkomazi, Govan Mbeki, eMalahleni, Mbombela, Steve Tshwete, Msukaligwa en Dr Pixley Ka Isaka Seme. 

Oor die provinsie het die DA 17 addisionele stemdistrikte gewen en hul setels in landelike munisipaliteite soos Thembisile Hani, Dr JS Moroka en Bosbokrand verdubbel.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het in die week aangekondig sowat 4 miljoen meer mense het in hierdie verkiesing gestem as vyf jaar gelede.

Besoek die OVK se verkiesingsplatform hier.