Die welbekende eiendomsagent en radio-omroeper, Tom Farmer (55), is gisteraand na ‘n kort siekbed oorlede weens komplikasies verwant aan diabetes.
Hy het by 100.5FM betrokke geraak kort na die radiostasie in 2003 gestig is.
Sy suster, Corné Venter, voeg by: Hy was ook ‘n fotograaf en ‘n kosfundi en sosiale vlinder en koorsanger en, en, en…
Sy sê sy sal hom bowenal onthou vir sy passie vir mense.
“Hy was baie betrokke by ons hele familie. Hy was ontsaglik goed vir my kinders. Hy was altyd beskikbaar vir alles en almal. Hy was lief was vir mense en dit is waarom almal vir hom lief was. Hy sou enigiets vir enigiemand doen. Dit is wat hom onderskei het van baie ander mense.”
Sy vriende noem hoe blymoedig hy gebly het te midde van gesondheidsuitdagings.

‘n Kollega, Roelf van Jaarsveld, skryf: “Die lewe loop ‘n vreemde pad met elkeen. Nooit het ek gedink dat ek iet sou moes neerskryf oor die lewe van kollega, Tom Farmer nie nie. My Dinsdagaand se uitsending op Radio Laeveld het soos normaal verloop totdat die berig oor Tom se afsterwe skielik op die rekenaarskerm geflits het. Dit het my soos ‘n donderslag getref en die trane het vrylik gevloei. Hy was dan nog so jonk! Boonop net gister aan hom gedink en gewonder of ons weer soos voorheen ‘n klein groepie by sy woonplek sou vergader om hierdie jaar af te sluit.
“Tom het kort na my aansluiting by Radio Laeveld in 2003 sy opwagting gemaak en eers vir ‘n kort tydjie die oggendprogram hanteer. Ons moes hom telkemale met groot gelag versoek om bietjie minder van Laurika Rauch te speel want sy was nogal hoog op sy lys van gewilde kunstenaars!
“Ek glo dat niemand ooit Tom kwaad of nors gesien het nie. In die 23 jaar was hy so gemaklik met alles soos ‘n kleuter met ‘n suigstokkie. Sy taalgebruik en musiekkeuses oor die lug was elke maal voortreflik. Temas vir sy weeklikse programme was ook altyd goed nagevors.
“Om kortliks op te som – Tom was met alles eenvoudig rustig, aangenaam, vredeliewend, goed belese, ‘n goeie geselsgenoot, wynkenner en harde werker. Maar een ding het uitgestaan – te midde van siekte en terugslae het hy dieselfde gebly. Nooit gekla nie. En dít maak Tom ‘n YSTER! Wat ‘n voorbeeld vir elkeen van ons!
“Mag die Here hom genadig wees waar hy nou vir ewig vrede en rus vind. Ons bid ook dat sy familie en vriende getroos sal word met die wete dat Tom voluit geleef het en baie vriende na hom getrek het met sy aangename persoonlikheid. Ek sal hom baie, baie mis.”
Nog ‘n kollega, Derek Wolff, sê: “Wanneer ek aan Tom dink, onthou ek onkreukbare Afrikaans, ‘n sagte mens met ‘n oog vir kunste. Met sy reisprogram het hy met die gebruik van woorde, sonskyn deurdenkte strande met vrolike vakansiegangers beskryf, ou Europese sjarme van nou strate in stede het my met nuuskierigheid laat luister; en dan kon hy die Sondagstemming lei met verkwikkende rustige liedere wat ek skaars van gehoor het. Ek sal Tom se kennis en vriendelikheid nog lank onthou! Rus sag kollega!”
Radio Laeveld se stasiebestuurder, Q Prior, sê: “100.5FM Radio Laeveld and the Lowveld have sadly lost a truly genuine soul, a dedicated presenter and a true gentleman. Tom was an integral part of the rich history of the station and will remain a part of us as we continue to serve our community. Our sincerest condolences to Tom’s family and friends. RIP Legend.”
Hy word oorleef deur sy suster Corné en haar man Jan Venter, hul kinders Hannes, Merika en Liané en sy broer Fred.
Reëlings vir sy troosdiens sal gedeel word sodra die besonderhede bevestig is.





