Vrou wat ma en seun in Barberton glo doodskiet, onder polisiebewaking in hospitaal

'n Vrou en haar volwasse seun is Maandag in hul huis doodgeskiet.
misdaad

‘n 19-jarige vrou is onder polisiebewaking in die hospitaal, na sy deur gemeenskapslede aangeval is na twee mense in hul huis in Barberton vermoor is.

‘n Polisiewoordvoerder, luit. kol. Jabu Ndubane, sê twee vroue en ‘n man het Maandagaand aan die gesin se deur in Uitbreiding 10 geklop.

Die 43-jarige Lena Madonsela het geantwoord en is in die been geskiet.

Haar 24-jarige seun, Lucky Zulu, het een van die aanvallers herken en is ook geskiet.

Beide het later by die hospitaal aan hul skietwonde beswyk.

Die verdagtes het met alcohol en kontant weggekom.

Madonsela se 12-jarige dogter is ook geskiet, maar kon buite alarm maak.

Bure het gereageer en het glo na die betrokke vroulike verdagte se huis gegaan.

Sy is ernstig aangerand, maar is deur die polisie gered voor hulle haar aan die brand kon steek.

Die kind word tans in die hospitaal behandel.

Die verdagte sal aangekla word van moord, poging tot moord en huisbraak.

Die ander twee verdagtes word gesoek.

Geen arrestasies is nog gemaak in die groepsgeweldsaak nie.