100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Motoriste gemaan oor veiligheid in reënweer

Written by on February 20, 2025

Die Mpumalanga LUR vir gemeenskapsveiligheid, Jackie Macie, het ‘n beroep op motoriste gedoen om die pad uiters versigtig te gebruik te midde van swaer reën en mistige toestande regoor die provinsie.

Hy het gereageer op verskeie ongelukke wat gister aangemeld is.

‘n Bus wat Amerikaanse toeriste na die Krugerwildtuin vervoer het, het op die R540 tussen Dullstroom en Lydenburg omgeslaan. Volgens die departement het 18 mense beserings opgedoen wat wissel van gering tot ernstig en 17 word in ‘n hospitaal in Belfast behandel.

In nog ‘n voorval het ‘n minibustaxi wat kinders skool toe vervoer het en ‘n sedan gisteroggend tromop op die N4 tussen Emalahleni en Vosman gebots. Agt leerders is beseer – een van hulle kritiek.

Nog ‘n bus wat leerders vervoer het, het op die R573 Moloto-pad omgeslaan, wat ook daartoe gelei het dat verskeie leerders ligte beserings opgedoen het.

Nog ‘n botsing vanoggend het op Madiba-rylaan in Mbombela verkeersontwrigting veroorsaak (sien foto).

“Ons glo dat die weer moontlik die oorsaak van die meeste van hierdie ongelukke was. Ons doen dus ‘n beroep op motoriste om ‘n versigtige volgafstand te handhaaf, spoed te verminder en uiters versigtig te wees wanneer hulle in mistige en nat weerstoestande ry,” het Macie gesê.

Hy het ook ‘n beroep op alle padgebruikers gedoen om versigtig te wees vir vloedwater.

Wetstoepassers en noodpersoneel is op hoë gereedheid te midde van nog ‘n oranje vlak 6-waarskuwing vir ontwrigtende reën wat vir vandag uitgereik is.

Foto: Lowveld Traffic WhatsApp

Sien ook: Pastoor in Barberton aangekeer weens gouddraende materiaal