Nelspruit-eiendomme onder Gareth Mnisi-bates wat SAID bevries

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het ‘n voorlopige bewaringsbevel bekom op bates van die Stad Tshwane se hoof finansiële beampte, Gareth Mnisi, insluitend versekeie eiendomme in die Laeveld.

Die Inkomstediens het vanoggend ook ‘n deursoeking en beslaglegging uitgevoer by sy kantoor as deel van ‘n belastingondersoek.

Die Gauteng Hooggeregshof in Pretoria het die voorlopige bewaringsbevel in terme van die Wet op Belastingadministrasie Dinsdag toegstaan vir alle realiseerbare bates van 13 respondente wat, buiten Mnisi, ook maatskappye en vyf ander individue insluit. 

Mnisi word as respondent genoem in sy persoonlike kapasiteit sowel as trustee van Maverick Business Trust en die Mnisi Family Trust.
Ander respondente sluit in NDK Investments, All Things Luxury Automobiles, Menzpro Corporation en Shaun Ross Trading.

Die 21 eiendomme sluit in een in Shoshanguve en Centurion, twee in Johannesburg, vier in spesifiek Bryanston, Sandton sowel as eiendomme in Mpumalanga.

Daar is drie in Ermelo en een in Malalane. Die nege in Nelspruit sluit eiendomme in The Rest Eco Estate en Shandon Estate in.

Volgens die voorlopige bewaringsbevel kan SAID op 29 voertuie beslag lê, sowel as 79 bankrekeninge verbonde aan die individue en entiteite.

Die spesifieke voertuie wat onder Mnisi se naam gemeld word is ‘n BMW X7, Toyota Hilux en Yamaha-supersport motorfiets.

Die hof het ook ‘n curator bonis aangestel en handel in die eiendomme beperk.

Mnisi is vroeër vanjaar geskors ná bewerings voor die Madlanga-kommissie geopper is dat hy vertroulike tenderdokumente aan vriende uitgelek het en moontlik aan ’n skema vir die manipulering van tenders deelgeneem het terwyl hy as voorsitter van die stad se tenderbeoordelingskomitee gedien het.

‘n Forensiese ondersoek wat deur die munisipaliteit aangevra is het ook bewerings ondersoek dat hy versuim het om sekere sakebelange en verhoudings met maatskappye wat by munisipale tenders betrokke is, bekend te maak.

Die verslag het egter geen bewyse van onbehoorlike optrede deur hom gevind nie, maar dissiplinêre stappe is aanbeveel.

Mnisi het in Julie teruggekeer werk toe na hy ’n finale skriftelike waarskuwing ontvang het.

Vanoggend was Tshwane se waarnemende stadsbestuurder, Musa Khumalo, volgens berigte teenwoordig by die ondersoek by Tshwane House, die hoofkwartier van die munisipale kantore in Pretoria, en het hy toegang tot Mnisi se kantoor verleen.

Die munisipaliteit is glo vooraf deur SAID ingelig van die lasbrief.

Samkelo Mgobozi, woordvoerder van die burgemeester van die Stad Tshwane, het bevestig dat Mnisi daarna die perseel verlaat het, vergesel deur individue wat klere met die inkomstediens-handelsmerk gedra het.

Hy sê die metro sal nie tans verdere kommentaar lewer op die deursoeking nie:

Luister: 

Intussen het die 13 respondente tot 14 Desember om aan die hof redes te voorsien waarom die voorlopige bewaringsbevel nie permanent gemaak moet word nie.