Klein Caleb kry breinoperasie in Kaap

Klein Caleb van Wyk het Maandag ‘n breinoperasie ondergaan vir sy hemimegalencephaly (HME).
Dit is ‘n uiters seldsame en ernstige breintoestand waar een kant van die brein abnormaal groei en onbeheerbare epileptiese aanvalle veroorsaak.
Die linker peri-insulêre hemisferotomie is by die Constantiaberg Mediclinic in Kaapstad uitgevoer.
Die prosedure behels dat die geaffekteerde kant van sy brein ontkoppel word.
Sy ma, Lara, sê hulle kon wel net twee derdes van die prosedure voltooi.
Hulle kon hom gister van die ventilator afhaal, hoewel hy nog in die intensiewesorg-eenheid was.
“Hy kry nog seizures maar nie so erg nie, maar steeds meer as wat hy moet. Oor ‘n dag of twee kan ons dalk oorgeskuif word na ‘n gewone saal, maar dit hang alles van Caleb af. Hy’s ‘n regte fighter,” sê sy.
Sy sal moontlik tot einde April saam met Caleb in die Kaap moet bly, omdat daar andersins nie ‘n spesialis naby sal wees indien iets met hom gebeur en hulle teruggekeer het na Mbombela nie.
“Daarna, oor ‘n paar maande, moontlik meer as ses, kom ons terug en die operasie word voltooi.”
Hulle het ‘n BackaBuddy-veldtog van stapel gestuur om te help met die hoë mediese kostes.
Pediatric Care Africa het vanjaar ook sy jaarlikse Ride for a Child-fondsinsameling ten bate van Caleb gehou.
Lara het almal bedank vir hul ondersteuning.
“Ek sê graag weer dankie vir dr. André en Joyce en Maryna vir alles wat hulle doen. Vir ons gemeenskap wat ons bystaan en die Caring Daisies vir hul ongelooflike harte om ons na die Kaap te kon bring.”
Vind die BackaBuddy-veldtog hier: Help Baby Caleb on His Journey to Healing.