Pumas kan top vier betree met sege oor WP

Die DHL WP en Airlink Pumas speel Saterdag by die DHL-stadion in Kaapstad om 19:20.

Slegs twee rondes bly oor in die Curriebeker en hierdie naweek sal waarskynlik die top vier wat na die halfeindrondes deurdring bepaal. 

Die laaste geplaaste WP en die vyfde geplaaste Airlink Pumas sluit Saterdagaand die sesde ronde-aksie in Kaapstad af. 

Jimmy Stonehouse se manne het ‘n gulde geleentheid om tot in die top vier te vorder en sal ongetwyfeld mik na ‘n bonuspunt-oorwinning oor die segelose WP.

As hulle dit regkry en die Leeus val vas teen die Bulle kan die Pumas hulself in die vierde plek bevind met die aanvang van die laaste ronde.

Die Kaapse span soek desperaat na hul eerste oorwinning van die seisoen. 

Die Pumas self sal ‘n kommerwekkende twee nederlae in ‘n ry wil besweer. 

WP sal egter aangepor wees deur hul bestendige verbetering – ten spyte van die negatiewe resultate. 

WP het hul vorige ontmoeting met die Pumas in September met 39-30 gewen.

Alle wedstryde word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Luister: