Vyf in Nelspruit gearresteer na moord op polisiebeampte in Ermelo
Written by Mireille on January 17, 2025
“Dit is ‘n bitter pil om te sluk dat een van ons eie se lewens op so ‘n wrede manier kortgeknip is.”
So sê gen. maj. Nico Gerber, die hoof van die Valke in Mpumalanga met verwysing na die moord gistermiddag op luit. kol. Piet Pretorius in Ermelo.
Die 59-jarige Pretorius was ‘n bevelvoerder in die voertuigidentifiserings-eenheid.
Hy was aan diens en op pad terug kantoor toe, toe die aanvallers op sy amptelike voertuig losgebrand het voor hulle van die toneel gevlug het.
Hy het kort ná sy aankoms by die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Vyf verdagtes, vier mans en ‘n 36-jarige vrou, is binne minder as 24 uur in ‘n gesamentlike spanpoging deur wetstoepassers gisteraand in Nelspruit gearresteer.
Daar is op een van die voertuie, ‘n VW Polo, wat vermoedelik in die pleeg van die misdaad gebruik is, beslag gelê.
‘n BMW wat op die misdaadtoneel opgemerk is, is vanoggend in ‘n veld in uitbreiding 7 in Ermelo uitgebrand gevind.
Die voorlopige ondersoek dui daarop dat dit in Oktober in Culcatta gekaap is.
Volgens die polisiewoordvoerder, luit. kol. Jabu Ndubane, is die verdagtes almal tussen 29 en 40 jaar oud.
Die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, gen. maj. Zeph Mkhwanazi, het die vinnige arrestasie verwelkom.
Luister:
Hy besoek vandag Pretorius se familie.
“Ons sal verseker dat geregtigheid aan ons gevalle held geskied,” sluit Gerber af.
Sien ook: Tweede verdagte in Pienaar massa-skietery van moord aangekla – Radio Laeveld