100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vuurwarm atletiek in versengende hitte by NHS Interhuis

Written by on January 22, 2025

Hoërskool Nelspruit (NHS) het Dinsdag hul jaarlikse Interhuis-ateletiekbyeenkoms gehad.

Die 2025-weergawe het ongetwyfeld die waarde van ‘n intensiewe oefenkamp gedurende die vakansie, bewys.

Uithaler-vertonings was aan die orde van die dag en NHS se atlete het vanuit die staanspoor getoon dat hulle nie sommer die kroon as die Laeveld en Mpumalanga se top-atletiekskool, gaan afstaan nie.

Elke vertoning is met die nuwe APE-puntestelsel bepunt, en ‘n verstommende 15 atlete (ses seuns en nege meisies) kon meer as 800 punte behaal.

Gegewe die uiters bedompige toestande en vroeë stadium van die seisoen, is hierdie gewis ‘n prestasie.

Vanjaar se Victor en Victrix Ludorum in die onderskeie ouderdomsgroepe is: Seuns: s.14 – W.C. Van Schalkwyk; s.15 – Wiaan Grobler; s.16 – Aldo van Jaarsveld; s.17 – Menzi Shiba; en s.19 – Vaughn van Zyl.
Meisies: m.14 – Jess Badenhorst; m.15 – Chenade Botma; m.16 – Lana Theron; m.17 – Zoë Cilliers; en m.19 – Michelle Groenewald.

Uiteindelik was dit die Atheners wat as 2025 se kampioene gekroon is, nadat hulle in beide afdelings (seuns en meisies) te veel skietgoed vir die Spartane en Trojane gehad het.

Die gesogte sang- of geesbeker, is eweneens enduit met oorgawe om meegeding. Vanjaar is hierdie trofee met groot
trots en onder luide toejuiging, deur die Trojane omhoog gehou.

Betreffende die aksie op die baan en veld, moet spesiale vermelding van die jong Mia du Preez (o.15) gemaak word. Sy verdien ‘n spoggerige 901 punte vir haar puik afstand van 13,48 m in gewigstoot. Sy wen ook die skyfwerp met ‘n indrukwekkende 35,95 m.

Die staatmaker Zané Nel (o.17) was ook op haar stukke: Sy gooi die 1kg-skyf ‘n allemintige 39,14 m ver (vir 888 pumte) en wen ook die gewigstoot met ‘n stewige afstand van 13,43 m.

Beide meisies beskik oor die talent en temperament om vanjaar die “magiese” 40 m-merk in skyfwerp, te oorskry.

Wat die seuns betref, het die vonke beslis in verspring gespat Jordan Pretorius (o.19) breek deur die 7 m-grens (850), terwyl Menzi Shiba (o.17) se 6,93 m (886) en Tye Habib se 6,60 m (812) ook die toeskouers na hul asems laat snak het.

Janco Small (o.17) het met ‘n goeie 6,80 m tot die skouspel bygedra, asook Owen Ngwenya se 6,48 m (o.17) wat hom ook by “klub ses meter” laat aansluit het.

Die pragatletiek was ‘n heerlike aptytwekker vir Saterdag se jaarlikse tuisbyeenkoms, waar NHS se span deeglik deur die sterre van Affies, Hoërskool Middelburg, Rob Ferreira en Ermelo beproef gaan word.

Woorde: Kobus de Wet

Foto’s: Hennie Homann

Sien ook: Fleksie-skof kom vir meer sigbaarheid van spietkops