100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Visums aan Libiërs bron tot groot kommer

Written by on August 21, 2024

Die Portefeuljekomitee oor Binnelandse Sake het ernstige kommer uitgespreek oor administratiewe probleme in die uitreiking van visums vir die 95 Libiese burgers wat verlede maand by ‘n militêre opleidingskamp in Witrivier aangekeer is.

Klagte teen die mans is verlede week laat vaar en hulle is Sondag gedeporteer.

Lees meer: Libiërs gedeporteer na klagte in Witrivier teruggetrek is

Die uitreiking van die visums sonder behoorlike prosesse en goedkeuring met nodige inligting vereis dringende optrede om die land se veiligheid te beskerm, sê die voorsitter van die komitee, Steve Chabane.

Die Libiërs se deportasie en wetstoepassers se samewerking met gemeenskappe om inligting te bekom is egter verwelkom.

Die voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat daar ‘n gaping in die administratiewe proses was tussen die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking in Tunisië en dat daar geen proses was om te raadpleeg, advies in te win of magtiging van die Departement van Binnelandse Sake te verkry nie.

Chabane sê dié leemte hou ‘n veiligheidsrisiko in en stel die verifikasieprosesse wat toegepas word by die uitreiking van visums in twyfel.

Onreëlmatighede wat deur die voorlopige ondersoek geïdentifiseer is sluit in:

Stelsels was van lyn af en het gelei tot handgeskrewe dokumente,

Verouderde vorms is gebruik,

Studievisums is uitgereik sonder enige besonderhede,

Noodsaaklike inligting is weggelaat,

Aansoekers het nie bewys getoon van voldoende fondse om hulle te onderhou terwyl hulle in Suid-Afrika was nie,

En polisieklaringsertifikate is nie geverifieer nie.

“‘n Gebrek aan kritieke inligting het die potensiaal om die doeltreffendheid van ons immigrasieregulasies te ondermyn, en maak die verifikasieproses nutteloos. Die gevolg is dat ongewenste buitelandse burgers in die land toegelaat word wat die land se veiligheid in gevaar stel,”  sê Chabane.

Die komitee het ook beklemtoon dat hoewel die deportasies bewerkstellig is, die behoefte om die inspektoraat-eenheid van die Departement van Binnelandse Sake te versterk nodig is, asook ‘n beter moniteringsinstrument om buitelandse burgers in die land op te spoor.

Chabane sê die Inspektoraat-eenheid is erg onbevoeg en dit verswak sy vermoë om sy mandaat uit te voer.

Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, het die Parlement intussen gevra om die digitale oorgang van sy departement te steun om nasionale veiligheid te verseker.

Hy het voor die komitee gewaarsku ouderwetse, papier-gebaseerde stelsels maak die departement kwesbaar vir bedrog, korrupsie en identiteits-diefstal.

Schreiber glo slegs ‘n benadering wat digitale stelsels vooropstel, kan die kwessies oplos en verdere bedreigings vir staatsveiligheid verhoed.

Luister: ENG SchreiberOnSystems

AfriForum eis verder ‘n onafhanklike ondersoek na die Milites Dei-sekerheidsdienste se onwettige kamp in Witrivier, en beweer daar was korrupsie en onbevoegdheid by Binnelandse Sake.

Die  organisasie sê dit ontbloot ernstige onbevoegdheid en korrupsie binne die departement en in ander agentskappe.

Jacques Broodryk van AfriForum vra verbeterde grensbeheer, ‘n oudit van immigrasieprosesse en aanspreeklikheid vir dié wat verantwoordelik was vir die debakel.

Luister: AFR_Jacques Broodryk


×