‘n 32-jarige verdagte is onder polisiebewaking in die hospitaal na hy gewond is tydens ‘n skietery met veldwagters in die Pretoriuskop-gedeelte van die Krugerwildtuin Sondagaand.
Volgens die Mpumalanga polisie het die veldwagters op patrollie vier vermeende renosterstropers teëgekom.
Hulle het hulle agternagesit en ‘n skietery het gevolg.

Die gewonde man is in hegtenis geneem en in besit van ‘n geweer gevind.
Die drie oorblywende verdagtes kon vlug.
‘n Tweede vuurwapen, wat vermoedelik deur een van hulle agtergelaat is, is ‘n paar meter van die toneel gevind.
Die gearresteerde verdagte sal na verwagting in die hof verskyn sodra hy medies geskik verklaar is.





