Motorongeluk eis wyd gerespekteerde Mpumalanga-LPW

Tersia Marshall, ‘n DA-lid van die Mpumalanga-wetgewer, is vanoggend in die hospitaal oorlede na sy gister in Rusternburg in ‘n motorongeluk was.

Die 46-jarige is na die 2024 algemende verkiesing as LPW ingesweer.

Voor dit was sy lank ‘n raadslid in Mbombela-munisipaliteit.

Sy het haarself as ‘n gemeenskapswerker voor ‘n politikus beskryf.

Die DA het Marshall, wat ook die party se kiesafdelingshoof was vir Bosbokrand, se toewyding en integriteit geloof.

“Haar leierskap, deernis en diens sal onthou word deur almal wat die voorreg gehad het om saam met haar te werk,” lui die party se verklaring.

Die speaker van die wetgewer, Makhosazane Masilela, sê Marshall het die provinsie met toewyding gedien.

Mthobisi Ngomane het haar op Facebook beskryf as “Een van die intellektueles van ons Stad Mbombela en Mpumalanga.”