100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Lebombo steeds gesluit vir verkeer

Written by on November 8, 2024

Die Suid-Afrikaanse hoёkommissaris, Siphiwe Nyanda, vra dringende dialoog om die krisis na die verkiesing in Mosambiek op te los.

Die Mosambiekse hoofstad, Maputo, is so te sê onder beleg met paaie afgesper en skermutselings na gewelddadige betogings uitgebreek het nadat die verkiesingsuitslae bekendgemaak is.

Die Frelimo Party, wat al byna 50 jaar lank regeer, het die verkiesing op 9 Oktober gewen, maar opposisiepartye en die Europese Unie beweer daar was verkiesingsbedrog.

Die belangrikste opposisieleier, Venâncio Mondlane, beweer hy het vroeër ‘n sluipmoordpoging in Sandton oorleef.

Hy het ‘n betoging vir gister uitgeroep. Die polisie het slaags geraak met protesteerders in Maputo.

Volgens Mondlane heers daar ʼn rewolusionêre atmosfeer wat bewys Mosambiek is op die punt van ʼn unieke geskiedkundige en politieke oorgang. Hy is tans in die buiteland.

Human Rights Watch sê ten minste 18 mense is sower dood weens die geweld.

Die Lebombo-grenspos by Komatipoort bly gesluit vir motoriste en vragmotors, met slegs noodsaaklike goedere en voetgangers wat deurgelaat word na geweld by Ressano Garcia voorgekom het.

Volgens die Mpumalanga polisie is ‘n 49-jarige Mosambiekse man vir openbare geweld gearresteer.

Hy het glo sy taxi voor die grenspos parkeer en homself daarin toegesluit.

‘n Groep van sy ondersteuners is met rubberkoeёls uiteen gejaag.

Die polisie monitor die situasie.

Die Padvragvereniging het intussen ‘n spesiale taakmag op die been gebring om na die veiligheid van vragmotorbestuurders aan die Suid-Afrikaanse kant om te sien en te verseker hulle het toegang tot ablusiegeriewe, kos en water.

Die bestuurshoof van die vereniging, Gavin Kelly, het bevestig honderde vragmotors is vasgekeer en kan nêrens heen beweeg nie.

Intussen sal president Cyril Ramaphosa met die Mosambiekse regering beraadslaag om kalmte en stabiliteit te probeer herstel.

Sy woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Ramaphosa sal die situasie ook met die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap bespreek.

Sien ook: Lebombo-grenspos tydelik gesluit weens geweld na Mosambiek verkiesing


Continue reading