Innibos vier Laeveld se eie sterre

Innibos is ‘n trots Laeveldse kunstefees en sluit altyd ‘n gesonde dosis plaaslike kunstenaars IN.

Die fees vier ook die week “Local is Lekker” met weekkaartjies wat vandag teen ‘n spesiale aanbod verkoop word.

Bykans ’n derde van die kuierverhoog-kunstenaars kom uit eie bodem. 

“Ons is ongelooflik trots daarop dat soveel van ons eie Laeveldse talent nasionaal naam maak, maar steeds hul wortels hier op Innibos kom vier,” sê Adelene Niehaus, wat die kunstenaarskakeling by Innibos behartig.

“Dit gee die fees ’n egte, hartlike karakter wat jy nêrens anders kry nie.”

Op die Cell C- en kykNET-verhoë deel kunstenaars soos Ian Roberts, ’n egte Laevelder en voorsanger van die Radio Kalahari Orkes, die verhoog met ander groot gunstelinge.

Die kykNET Country Konsert op 3 Julie, bring kunstenaars soos Franja du Plessis, Armand Hofmeyr én Pieter Rischmüller van die Laeveld na vore.

Juan Bester

Alternatiewe klanke kry ook hul plek met plaaslike rocker Coenie Naudé en kletsrymer Juan Bester, terwyl die musikante Kris Ray en Tiffany Steyn ook wys hoekom plaaslik regtig IN is.

Op die Cell C-verhoog sluit die plaaslike DJ-duo BassBroers van Nelspruit Donderdagaand die aand af met egte Laeveldse energie.

BassBroers

Vrydag bring Brendan Peyper die treffers, en Saterdagaand vat local-is-lekker DJ Jaydon Mark oor met ’n vertoning wat die skare op hul voete gaan hou.

By die Mopani-verhoog in die Wingerd Kuiertuin ontmoet leefstyl en musiek mekaar. Die daaglikse leefstyl-uur aangebied deur Nelspruiter Jacques Lombard saam met gaskunstenaars soos Wynand van Vollenstee, Matie van Graan, Dené Lindeque-Fouché, Marinda Engelbrecht en Thiart Li beloof ’n unieke ervaring van styl, smaak en vermaak te wees.

Dié verhoog drup verder van plaaslike talent met vertonings deur Thapelo Lekoane, Mathew Gold en Wanda Zonke.

Bia en Plain Jane gaan ook die Laeveld se naam hoog hou met hul optredes.

Met 52 kunstenaars op die program, waarvan ongeveer 20 uit Mbombela, Lydenburg en die breër Laeveld kom, bewys Innibos dat wêreldklas vermaak reg voor jou deur gebeur, sluit  Niehaus af.