Die Suid-Afrikaanse musiekbedryf treur oor die dood van die bekende musiekagent, Mara van der Bergh, en haar assistent Samantha Fuller, in ‘n motorongeluk Saterdagaand buite Mbombela.
Die bekende countrysanger, Tommy Dell, was saam met hulle in die voertuig op pad terug van ‘n vertoning toe hulle omstreeks 22:00 met ‘n bakkie gebots het.
Barbara Ray en Clive Bruce het ook opgetree by die Countryaand.
Dell is in die waakeenheid van Mediclinic Nelspruit opgeneem en is volgens berigte in ‘n kritieke maar stabiele toestand.

Hy is veral bekend vir sy nommer een-treffer Teddy Bear, wat 26 weke bo-aan die Suid-Afrikaanse musiektreffersparade deurgebring het.
Volgens die Mpumalanga Departement van Gemeenskapsveiligheid het hul Honda-sedan op die R40 by die afdraai van Mbombela na Hermansburg met die bakkie, wat vanaf Barberton se rigting afkomstig was, gebots.
‘n Woordvoerder, Moeti Mmusi, sê die insittendes van die bakkie is lig beseer.
Van der Bergh was die agent van verskeie kunstenaars, ondermeer Dell en die oorlede Lance James.

Bekendes in die bedryf het sedertien aan haar hulde gebring op sosiale media.
Ignaz Streicher skryf namens die betrokke partye en familie haar skielike heengaan laat ’n leemte wat nie maklik gevul sal kan word nie.
“Haar werk het oor dekades gestrek. Sy het kunstenaars ondersteun, vertonings moontlik gemaak, loopbane help bou en ’n belangrike rol gespeel in die bewaring en bevordering van Suid-Afrika se country- en Afrikaanse musiekerfenis.
“Vir baie in die bedryf was Mara nie bloot die persoon agter die verhoog nie. Sy was deel van die hart van die bedryf.”
Sunette Bridges beskryf die vrou wat sy bykans haar hele lewe lank geken het as ‘n ystervrou met ‘n hart van goud, wat eiehandig die loopbane en optredes van bykans elke countrylegende in die land bestuur het.
Snotkop skryf “Tannie Mara” was van die begin af baie goed vir hom.
“Sy was een van die eerste agente wat my ondersteun het, my gehelp het met bookings en altyd met soveel vriendelikheid en warmte teenoor my opgetree het. Dit is iets wat ek nooit sal vergeet nie, en ek sal altyd baie dankbaar wees vir die rol wat sy vroeg in my loopbaan gespeel het.”
Kurt Darren het haar ook bedank dat sy altyd daar was vir hom in sy loopbaan.
“You touched so many of us, rest well.”





