Besoekers met besprekings by die Onder Sabie-ruskamp in die Krugerwildtuin word aangeraai om met voorraad aan te kom en items soos hout en ys by ander kampe soos Skukuza, Krokodilbrug, Satara, Tshokwane of Nkuhlu te koop na ‘n brand vanoggend in die kleinhandelwinkel by die kamp ontstaan het.

‘n Woordvoerder, Rey Thakuli, sê verblyf word nie daardeur geraak nie en, met die kamp wat vol bespreek is vir die komende twee langnaweke van 27 April en 1 Mei, gaan aktiwiteite soos begeleide wildritte en staptogte normaalweg voort.

Die restaurant het geen brandskade opgedoen nie, maar sal vir eers gesluit bly weens kragonderbrekings wat deur die brand veroorsaak is.
Thakuli sê tydelike kleinhandel- en voedsel- en drankdienste sal so gou as moontlik geïmplementeer word.
SANParke versoek gaste om om veiligheidsredes weg te bly van die area.
Die oorsaak word ondersoek.
Luister:




