SANParke en die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) vier vanaf Maandag vir ‘n week Parkeweek.
Dit bied Suid-Afrikaners gratis toegang tot SANParke-reservate om hulle aan te moedig om hul natuurlike erfenis te geniet.
Dit geld veral vir gemeenskappe wat op die grens van beskermde gebiede woon, aangesien hulle gewoonlik nie algemene toegangsgelde kan bekostig nie.
Die NKW se hekke is slegs gedurende weeksdae oop: Maandag, 22 September, tot Vrydag, 26 September.
Kwotas sal by toegangshekke geïmplementeer word om verkeersopeenhopings te vermy.
Besoekers word daarom sterk aangemoedig om vooraf aanlyn besprekings te maak.
Die gratis toegang geld slegs vir toegang en geen ander toerisme-aktiwiteite nie.
Geldige identifikasie sal vereis word, behalwe vir kinders jonger as 16.
Die wildtuin se gewone reëls sal soos altyd toegepas word.
Groepe wat as kommersiële ondernemings beskou word (privaat oop safari-voertuigoperateurs, toeriste wat per toerbus na die park kom en oornagbesoekers) is nie ingesluit in die gratis toegangsreëling nie – buiten op die vakansiedag 24 September.
‘n Kulturele erfenisviering word beplan by Matsulu, buite die Numbi-hek, op Erfenisdag, aangesien September beide Toerisme- en Erfenismaand is. Dit sal parkbestuur die geleentheid bied om verhoudings met belangrike belanghebbendes van regoor die park te versterk.
Daarbenewens het SANParke, in vennootskap met die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA), oor die afgelope paar maande 34 jongmense met gestremdhede bemagtig deur ‘n entrepreneurskapsontwikkelingskursus. Op Vrydag, 26 September, sal hulle tjeks oorhandig om die mylpaal van die program te vier.