Ses Mosambiekse en een Suid-Afrikaanse verdagte is Donderdag in hegtenis geneem ná ‘n huisroof in Brondal, buite Witrivier.
Volgens die polisie is ‘n gesteelde voertuig Woensdag verlate in bosse langs ‘n pad in Low’s Creek gevind.
Die volgende dag is verdagtes in Mataffin, Nelspruit, vasgetrek.
Hulle was na bewering in besit van die sleutels tot die gesteelde Land Cruiser en items wat aan die slagoffer behoort, asook items afkomstig van ‘n ander inbraak wat verlede maand in Nelspruit plaasgevind het.
Die ondersoek duur voort om vas te stel of die verdagtes moontlik by ander soortgelyke sake betrokke was.
Verder verskyn drie vermeende rowers vandag in die hof na hulle deur die provinsiale teen-motorkapingseenheid, Divergent Ops en die provinsiale opsporingstaakspan in hegtenis geneem is.
Volgens die Mpumalanga polisie het die span inligting ontvang oor ‘n voertuig wat Vrydag by ‘n sakeroof by ‘n klerewinkel in Elukwatini gebruik is; die voertuig is in Besterstraat, Nelspruit, opgespoor.
Items wat vermoedelik tydens die roof gesteel is, is in die voertuig gevind.
Hulle sal in die Nelspruit-landdroshof teregstaan op aanklagte van sakeroof en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.
Nog sewe gekaapte en gesteelde voertuie, insluitend vragmotors, is binne vier dae in die Ehlanzeni-distrik teruggevind.
Volgens die polisie is die voertuie opgespoor deur middel van intelligensiegedrewe operasies en in samewerking met private sekuriteits- en voertuigopsporingsmaatskappye.
In een geval is ‘n bestuurder wat binne-in toegesluit was, gevind en gered, en in ‘n ander geval kon die vragmotor se bemanning gered word.
‘n Verdagte wat in verband met ‘n gekaapte vragmotor gearresteer is, sal na verwagting binnekort in die Nelspruit-landdroshof verskyn.
Die provinsiale polisiekommissaris, Apaphia Modise, het gesê dit toon die doeltreffendheid van die provinsie se teenkapingstrategie, sowel as die waarde van samewerking met vennote en gemeenskappe.
Die polisie het in totaal 925 verdagtes vir verskeie oortredings regoor Mpumalanga in hegtenis geneem tydens Operasie Shanela tussen Woensdag en Sondag.
Onder hulle tel agt gesoekte verdagtes, terwyl ander arrestasies gemaak is vir inbraak, kwaadwillige saakbeskadiging, diefstal van motorvoertuie, onwettige handel in drank, besit van onwettige sigarette en besit van nagemaakte goedere.
Die polisie het 12 vuurwapens sowel as 136 rondtes ammunisie gekonfiskeer sowel as edelmetale, alkohol, tabakprodukte, nagemaakte goedere en smokkelware.





