Ses vermeende onwettige mynwerkers na vermoede naby Ngodwana vermoor gevind

Die polisie in Mpumalanga ondersoek moordsake na die ontdekking van ses liggame van vermeende onwettige mynwerkers met skietwonde in Mashobote, naby Ngodwana, Saterdag.

‘n Polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê die polisie het ‘n oproep ontvang van ‘n lid van die gemeenskap wat gesê het hy het liggame by ‘n berg in die area gesien.

Hy sê polisielede van die Onwettige Mynbouspan is na die toneel gestuur. 

Luister: ENG MasondoONIllegalMiners

Intussen het die polisie hul stryd teen onwettige mynbou, veral in Barberton, verskerp deur Operasie Vala Umgodi.

Meer as 2,000 vermeende onwettige mynwerkers is tussen April 2025 en Julie 2026 in hegtenis geneem.

Die polisie het ook in April ‘n onwettige goudverwerkingslaboratorium in ‘n huis in Barberton ontdek, waar twee ongelisensieerde vuurwapens gekonfiskeer en twee verdagtes in hegtenis geneem is.

Bykomende gespesialiseerde eenhede is ontplooi om operasies te versterk, wat gelei het tot arrestasies, toerustingbeslagleggings en die sluiting van onwettige myngate.

Die provinsiale polisie doen ‘n beroep op gemeenskappe om onwettige mynbou aan te meld.