Die polisie in Mpumalanga doen ‘n geregtelike doodsondersoek na die liggame van ‘n 17-jarige meisie en 19-jarige man Maandag by ‘n lodge in Sabie aangetref is.
Cameron Waldeck-Cooks was ‘n gr. 11-leerder aan St. Stithians Girls’ College en Ethan Coetzee ‘n oudleerder van die Boys’ College wat verlede jaar gematrikuleer het.
‘n Polisiewoordvoerder, Mavelo Masondo, sê die ondersoek moet die oorsaak van hul dood bepaal.
Hy het bevestig dat hulle geen uiterlike beserings of wonde gehad het nie, en kon slegs sê dat hulle binne hul rondawel ontdek is.
Hy sê hulle is Maandagoggend omstreeks 07:50 ontbied toe iemand die polisie se 10111-nommer geskakel het rakende die voorval.
Die polisie het paramedici na die toneel ontbied.
Dit is onbekend wanneer die jongmense ingeboek het.
Die skool het Cameron beskryf as ‘n kranige roeier en netbalspeler wat ‘n aansienlike impak gemaak het op die mense om haar.
Sy sal onthou word vir haar “vriendelikheid, hartlikheid en vasberadenheid”.
Coetzee is beskryf as ‘n sterk, toegewyde en nederige jong man wat sy passies – in die klaskamer, op die rugbyveld en in perdesport – met entoesiasme aangepak het.





