Twee buitelandse burgers is vanoggend gearresteer weens onwettige sigarette met ‘n geraamde waarde van bykans R2 miljoen.
Volgens die Valke was dit ‘n langdurige toesigsoperasie na inligting ontvang is rakende onwettige aktiwiteite by ‘n bergingsfasiliteit in Witrivier.
Die polisie het ‘n lasbrief vir die fasiliteit verkry en gewag vir die gepaste oomblik om op te tree na ‘n aflewering gemaak is.
Inligting rakende die aflewering is op Donderdag ontvang.
‘n Multidissiplinêre span, bestaande uit die Valke se Nelspruit-gebaseerde Ernstige Kommersiële Misdaadondersoek, White River K9, en Divergent Operations, het voertuigbewegings in die gebied noukeurig gemonitor.
‘n Toyota Hilux is geïdentifiseer as een van die voertuie wat die onwettige sigarette vervoer het.
Die voertuig is tot in Nelspruit gevolg en onderskep, waar die twee mense in hegtenis geneem is.
Verdere ondersoek het die span na ‘n bergingsfasiliteit in Witrivier gelei, vergesel deur amptenare van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se doeane-afdeling en die plaaslike kriminele rekordsentrum.
Daar is op nog sigarette afgekom.
Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die Nelspruit-landdroshof verskyn.





