Polisie arresteer verdagtes vir moord op forensiese ondersoeker

‘n Tweede verdagte verskyn vandag in die hof in verband met die moord op ’n forensiese ondersoeker in 2023. 

Die eerste, Eckson Mkondo het gister voor die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklag van moord en samewerking om moord te pleeg. 

Beide beskuldigdes is amptenare verbonde aan die kantoor van die premier van Mpumalanga. 

Mabidi Mashaba was ook ‘n senior amptenaar verbonde aan die provinsiale regering. Hy het bewerings ondersoek van mense wat regeringsposisies met behulp van bedrieglike kwalifikasies bekom het. 

Hy is terwyl hy na Pretoria gereis het aangeval. Daar is meer as 20 keer op sy voertuig geskiet. Hy het later aan sy wonde beswyk. 

Mkondo se saak is uitgestel na Donderdag vir ‘n formele borgaansoek.

Die Kantoor van die Premier in Mpumalanga sê hy neem kennis van die arrestasie van twee van sy amptenare op aanklagte van moord. 

Intussen het die DA ‘n beroep gedoen dat lede van die Integriteitseenheid en teenkorrupsie-eenhede in die Kantoor van die Premier aan strenger keuringsprosesse en agtergrondondersoeke onderwerp word. 

Volgens Trudie Grovè-Morgan van die DA het die een verdagte na bewering sy graad vervals.