Opdatering: Veiligheidsbevel aan eienaars oor Senteeko-dam

Die departement van Water en Sanitasie het ‘n veiligheidsbevel aan die Shamile Gemeenskap se eienaarsvereniging, die eienaar van die Senteeko-dam buite Barberton, gerig om dadelik op te tree en die dam te stabiliseer om verdere skade te keer.

Dit volg nadat tegniese ondersoeke bevestig het die dam is in ‘n gevaarlike en onveilige toestand.

Die woordvoerder van die departement, Wisane Mavasa, sê na die swaar reënval in Januarie het die dam se oorloopstruktuur ernstige en onherstelbare skade opgedoen.

Luister:

Inspeksie by Senteeko-dam toon uitloop-struktuur is moeilik herstelbaar, 27 Januarie

Die Departement van Water en Sanitasie sê ‘n veiligheidsinspeksie by die Senteeko-dam buite Barberton het getoon dat die uitloop-struktuur so verswak het, dat dit moeilik herstelbaar sal wees.

Ingenieurs was gister besig met ‘n sekondêre uitloop as noodmaatreël.

Gemeenskappe stroomaf van die dam is gewaarsku om as voorsorgmaatreël na hoër grond te beweeg, weens die moontlikheid dat die damwal kan meegee, hoewel dit nie ‘n digbewoonde area is nie.

Die sekondêre uitloop het ten doel om die risiko van ineenstorting by die hoofuitloop te verlig.

Volgens die departement se damveiligheidspesialis, Wally Ramokopa, drup die damwal en bly dit gevaarlik.