Die saak teen Karin van Aardt se drie vermeende moordenaars is vanoggend in die landdroshof in Bishop Lavis tot Vrydag uitgestel vir ‘n borgtogaansoek.
Ndiyabulela Vayi, Thando Nkolongo en Yamnkela Mdunyelwa het op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede verskyn.
Die 64-jarige afgetrede onderwyseres is verlede Vrydag vermoor kort na sy en haar man by Kaapstad-lughawe geland het om by hul seun en sy gesin te kuier.
Sien ook: Nelspruit-vrou in Kaapstad vermoor
Die staat voer aan die drie het in die gras langs Jakes Gerwelrylaand tussen Langa en Bonteheuwel lê en wag vir potensiële slagoffers.
Toe die Van Aardts se gehuurde motor by die verkeerslig stilhou het hulle na die voertuig gehardloop en toegeslaan.
Nkolongo het volgens die staat haar venster met ‘n vonkprop stukkend geslaan. Hy het probeer om haar handsak en die GPS te gryp en sy het haar teëgesit.
Sy is verskeie kere met ‘n stomp voorwerp gesteek en is later in die hospitaal dood.
Haar gedenkdiens word Donderdag in die NG Moedergemeente in Nelspruit gehou.
Die Sunday Times berig intussen Kaapstad beplan om ‘n sekuriteitsmuur op te rig langs die N2 rondom Kaapstad-lughawe.
Dit volg op verskeie slaan- en grypdiefstal-voorvalle voor Van Aardt se moord.
Volgens Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sal die muur ‘n geraamde R180 miljoen kos om op te rig.





