Die Innibos Kunstefees sê die 2025-weergawe van die fees het ’n indrukwekkende mylpaal bereik met aangepaste besoekersbesteding wat op sowat R53,8 miljoen geraam word. Dit is ’n beduidende styging teenoor die R35,2 miljoen in 2024.
Die Noordwes-Universiteit se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se jaarlikse onafhanklike studie oor Innibos se impak beraam die fees se totale bydrae tot die plaaslike ekonomie op tussen R80 miljoen en R100,5 miljoen.
Meer as 78 000 feesgangers het oor die vier dae in Julie die fees in Mbombela bygewoon. Die navorsing toon ook feeslojaliteit is besonder sterk, met 25% van die bywoners wat Innibos al meer as 10 keer beleef het, die hoogste syfer nog, terwyl 24% die fees vir die eerste keer bygewoon het.
Vanjaar het 48% van feesgangers uit Mpumalanga gekom, met Gauteng wat 37% bygedra het. Terwyl hierdie twee provinsies die ruggraat van die besoekersprofiel bly, het Limpopo, Noordwes en KwaZulu-Natal ook ’n merkbare bydrae gelewer.
Die fees het selfs internasionale besoekers uit Botswana, Mosambiek en vanaf oorsee verwelkom.
Die feesbestuur sê dit beklemtoon Innibos se rol as ’n nasionale en internasionale gebeurtenis wat kulturele diversiteit vier.
Op ’n taalkundige vlak weerspieël Innibos ook groeiende diversiteit. Afrikaans bly die dominante huistaal, wat 87% van respondente in 2025 verteenwoordig.
Engels het 10% van die feesgangers uitgemaak, terwyl 3% in die “Ander”-kategorie geval het, wat isiZulu, Sepedi en siSwati ingesluit het, wat toon dat die fees geleidelik gehore uit ander tale en kulture lok, terwyl hy sy sterk Afrikaanse kern bedien.
Die 2025-resultate oor voorkeurgenres het beduidende verskuiwings in feesgangers se belangstellings getoon. Musiek het as duidelike gunsteling na vore getree en is deur 51% van respondente gekies – ’n sterk styging van 44% verlede jaar.
Komedie het ook gewildheid gewen en van 20% in 2024 tot 23% in 2025 gegroei, wat volgehoue vraag na ligte vermaak toon.
Ander kategorieë soos klassieke musiek, visuele kunste, letterkunde en leefstyl het egter aansienlik veld gewen.
Die fees het 786 werksgeleenthede in die kreatiewe en verwante bedrywe geskep, asook meer as 1,000 addisionele tydelike poste.
Die oorgrote meerderheid van feesgangers het sterk saamgestem dat die fees trots in hul kulturele erfenis kweek, entrepreneurskap en werkskepping bevorder, en Mbombela as ’n toonaangewende toerismebestemming posisioneer.
Lojaliteit teenoor die fees is buitengewoon sterk met 95% van feesgangers wat bevestig het dat hulle weer sal terugkeer, dit aan ander sal aanbeveel en positief oor hul ervaring praat.