Vloedskade in Krugerwildtuin kan honderde miljoene beloop

Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, sê die onlangse vloede in die Krugerwildtuin het uitgebreide skade veroorsaak wat moontlik honderde miljoene rand beloop. 

Hy het tydens ‘n inligtingsessie aan die media in Kaapstad vandag gesê paaie, brûe, kampe, personeelbehuising, toeriste-geriewe en water- en elektriese stelsels is geraak. 

Ondanks die vernietiging was daar geen lewensverlies nie. 

SANParke het die Kruger Herstelfonds en die Ereveldwagters het die Kruger Vloed 2026-fonds van stapel gestuur om vinnige herstelwerk te ondersteun.

Hy het beklemtoon dat dié fondse die enigste twee legitieme fondsinsamelingsveldtogte is.

Volgens Aucamp kon behoorlike assesserings nog nie gedoen word nie, omdat verskeie areas steeds oorstroom is.

SANParke se uitvoerende hoof, Hapiloe Sello, beraam dat hulle binne sowat ‘n week die volle omvang van die skade sal kan bepaal.

Watervlakke daal wel en opruimingsbedrywighede sowel as assesseringsprosesse het begin.

Personeellede wat steeds van die buitewêreld afgesny is word van kospakkies voorsien (foto).

Foto’s: South Africa National Park Facebook