Storm Baron is fopnuus maar groot reën kom

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ‘n virale sosiale media-waarskuwing oor ‘n storm genaamd Storm Baron wat na bewering Suider-Afrika gaan tref, as vals afgemaak.

Die weerdiens sê so ‘n storm bestaan nie en daar is tans geen tropiese sikloonaktiwiteit in die streek nie.

‘n Intense laedrukstelsel sal wel na verwagting wel oor suidelike Mosambiek ontwikkel en kan vanaf Saterdag wydverspreide reën en donderbuide na die Laeveld en platorand van Mpumalanga en Limpopo sowel as die noordooste van KwaZulu-Natal bring.

Die weerdiens doen ‘n beroep op die publiek om slegs op amptelike voorspellings en waarskuwings staat te maak.

Groot dele van die land sal waarskynlik erge weerstoestande, moontlik selfs tornado’s, gedurende die res van die somerseisoen ervaar.

Weervoorspellers voorspel dat die oostelike dele van die land die ergste sal ervaar.

Volgens die SAWD kom tornado’s tipies voor in gebiede wat erge donderstorms ervaar, veral wanneer vog en hitte teenwoordig is.

Twee tornado’s het reeds op Nuwejaarsdag dele van Mpumalanga getref het.

Die een het noordoos van Middleburg plaasgevind en die ander ‘n gebied nie ver van Carolina nie.

Geen sterftes is aangemeld nie, maar eiendom is beskadig.