Opdatering: Ingenieurs verlig druk op Senteeko-damwal maar waarskuwings bly in plek

Ingenieurs het ‘n nuwe sykanaal-oorloop geskep om die hoofoorloop te verlig van die Senteeko-damwal buite Barberton.

Die wal van die dam in die Suidkaap-rivier dreig om in te gee.

Volgens die De Kaap-waterraad sal die tweede oorloop druk verlig, maar die moontlikheid bly bestaan dat die damwal kan breek.

Die Barbertonvallei en die boonste dele van die De Kaap-rivier sal die meeste geraak word sou dit gebeur.

Barberton self sal nie geaffekteer word nie.

Diegene naby die Suidkaap en De Kaap-riviere is aangeraai om die nodige voorsorgmaatreëls te tref en, indien nodig, na hoër grond te beweeg.

Opdatering: Senteeko-damwal staan nog, maar struktuur versleg, 21 Januarie, 10:45

Die Senteeko-damwal staan ​​tans nog, maar is nie stabiel nie.

Volgens die De Kaap-besproeiingsraad is die struktuur besig om te versleg.

‘n Tegniese span van Gauteng is op pad om te help met die assessering van die situasie.

Alle veiligheidswaarskuwings bly steeds van krag en diegene naby die betrokke riviere (Suidkaap en De Kaap), moet die nodige voorsorgmaatreëls tref en, indien nodig, na hoër grond beweeg.

Die Barbertonvallei en die boonste dele van die De Kaaprivier sal die meeste geaffekteer word.

Woongebiede in Barberton sal nie geraak word nie.

Waarskuwing dat Senteeko-damwal kan meegee, maar hy hou vir nou, 20 Januarie 17:28

Mbombela-munisipaliteit het ‘n ontruimingsbevel uitgereik vir gemeenskappe rivier-af van die Senteeko-dam op die Suidkaap-rivier omdat die damwal besig is om te verkrummel.

Volgens Philip Minnaar, DA-raadslid in Barberton, het die Suidkaap-waterraad alle rolspelers verwittig dat die dam, van 1.82 miljoen m³ water, kan breek.

Minnaar sê boere tussen Barberton en Kaapmuiden kan geraak word, sou die damwal ingee, sowel as mense wat naby die Suidkaap- en Noordkaap-riviere woon.

Kenners verwag op hierdie stadium nie dat dit ‘n impak op Barberton sal hê nie.

Vir nou hou die damwal, maar sou hy ingee sal die dam na verwagting verskeie ure neem om leeg te loop.

Die Barberton-vallei en boonste dele van die De Kaap-rivier sal die ergste geraak word.

Mense naby die Kaap-rivier is gemaan om ag te slaan op enige ontruimingsbevele.  

Kenners verwag dat dit egter nie ‘n beduidende impak sal maak op die watervlakke van die Krokodilrivier nie – i.e. dit behoort nie die onlangse hoё vlakke van 19 Januarie te oorskrei nie. 

“Ingenieursbeoordelings dui aan dat ’n mislukking van die Senteeko-dam nie meer as 50 addisionele kubieke meter per sekonde in die watersvolume wat in die Krokodilrivier naby Matsulu vloei, sou veroorsaak nie. Dit sou ongeveer agt uur duur,” lui die jongste inligting. 

“”Dus, as die Senteeko-dam ineenstort, sou die laer dele van die De Kaap, nader aan die Krokodilrivier, vloedvlakke ervaar wat tot 30% hoër is as tydens die aand van 19 Januarie. Die Krokodilrivier, gegewe sy vlakke om 16:00 vandag, sal waarskynlik terugkeer na sy nagvlakke van 19 Januarie.”

Die hoër dele van sy aftakkings sal beslis binne ’n baie kort tyd gevaarlike vlakke bereik indien die dam ineenstort. 

“Vermy asseblief lae waterbrûe wat oor daardie rivier loop, en vermy om jouself in enige gevaarlike situasies te plaas gegewe die verwagte hoër vlakke.”

Mense is aangeraai om paaie en bruê wat hierdie riviere oorsteek te vermy.

Die geaffekteerde riviere is:

– Suidkaap
– Laer Queens by die samevloeiing met Suidkaap by Daisy Kopje
– Laer Noordkaap by die samevloeiing met Suidkaap by Consort-myn
– Eureka IB
– Low’s Creek IB
– Laer-kaap IB
– Kaap- en Krokodil-samevloeiing by Matsulu/Kaapmuiden.

*Hierdie artikel is met die jongste inligting opgedateer sedert sy oorspronklike publikasie.

Kyk: (video’s verskaf)