Primaatkenner Jane Goodall sterf op 91

Die wêreldbekende primaatkenner en bewaringskundige, Jane Goodall, is op 91-jarige leeftyd dood. 

Goodall word beskou as die voorste kenner van sjimpansees. 

Sy is in Kalifornië aan natuurlike oorsake dood tydens ʼn toer in Amerika. 

Die stigter van die Jane Goodall-instituut, wat 25 kantore met diverse programme wêreldwyd bedryf (insluitend Chimp Eden buite Mbombela), het ook die Roots and Shoots-program begin en was ‘n Boodskapper van Vrede vir die Verenigde Nasies. 

Tydens haar loopbaan van meer as 60 jaar het sy nie net grense vir vroue uitgebrei nie, maar ook die manier waarop wetenskaplikes diere bestudeer, verander. 

Die Jane Goodall Instituut sê haar ontdekkings as ʼn etoloog, het ʼn omwenteling in wetenskap gebring.

“Sy het onverpoosd geveg vir die beskerming en herstel van ons natuurlike omgewing,” skryf die instituut. 

Goodall het vir die eerste keer op 26 jarige ouderdom na Afrika gereis. 

Maroela Media skryf sy was die eerste navorser wat vir die primate name gegee het, eerder as nommers. 

In die mees omvattende navorsingstudie wat ooit oor sjimpansees gedoen is, het sy in Tanzaniё waardevolle inligting oor hul komplekse emosies, sosialisering, kommunikasie en gebruik van gereedskap ingesamel.