Paaie in Krugerwildtuin gesluit na swaar reën
Written by Mireille on January 13, 2025
Die onlangse swaar reën het daartoe gelei dat sommige van die kampe en grondpaaie in die Krugerwildtuin gesluit is.
Volgens die woordvoerder, Ike Phaahla, is sommige van die hoofpaaie tussen Skukuza en Onder Sabie beskadig, maar die padbestuurspan kon toeriste se veiligheid verseker.
Die oorstromings is grootliks in die suide, maar alle toegangshekke is operasioneel.
“Watervloeivoorspellings dui daarop dat die Sabie- en Sandriviere vir ‘n geruime tyd besonder sterk sal vloei.”
Die reën was ook swaar in die noorde met die Luvuvhu-rivier op sy hoogste vlak hierdie somer.
“Paaie in die gebied word ook gemonitor, en padgebruikers word versoek om padsluitings in ag te neem.”
Phaahla sê rampbestuurspanne staan ook gereed om aan moontlike noodgevalle aandag te gee.
Tot dusver is geen ongevalle of skade aan persoonlike eiendom aangemeld nie, maar padgebruikers word sterk aangeraai om ekstra versigtig te wees wanneer hulle laagwaterbrûe oorsteek en om nie uit hul voertuie te klim om puin te verwyder nie, maar eerder noodpersoneel te kontak.
Hy raai ook aan dat besoekers gereeld by hul onderskeie kampe op hoogte bly van verwikkelinge.
Voornemende besoekers met besprekings kan toeganklikheid bevestig by die kampe of die noodoproepsentrum 013-735-4325.
*Foto gistermiddag vanaf Kaartland Gastehuis geneem deur Evi Lebo Lebza