Onwettige myners ondergronds vasgekeer in Sabie
Written by Mireille on December 4, 2024
Die polisie, mediese nooddienste, die gesondheidsdepartement, binnelandse sake en twee private sekuriteitsmaatskappye sowel as bosboumaatskappye monitor ‘n situasie in Sabie waar ‘n groep onwettige mynwerkers ondergronds in ‘n verlate myn vasgekeer is.
Die polisie skat daar is ongeveer 150 mense vasgekeer. Drie van hulle is glo dood.
Volgens die polisiewoordvoerder in Mpumalanga, kol. Donald Mdhluli, is die situasie gistermiddag deur die honde-eenheid ontdek toe hulle op vier mans afgekom het wat hulle ingelig het dat hulle uit die myn ontsnap het.
Hulle is glo deur ontvoerders gedwing om onder gevaarlike en haglike omstandighede goud te myn.
Luister:
“In die lig van hierdie voorval glo ons dat diegene wat hierdie onwettige operasie bestuur, moontlik swaar gewapen kan wees,” sê Mdhluli.
Hierdie vermoede word verder ondersteun deur ‘n voorval Donderdag waartydens beweerde onwettige mynwerkers wetstoepassingsbeamptes aangeval en ‘n lid van die honde-eenheid noodlottig gewond het.
Sedert gistermiddag is twee buitelandse burgers saam met vier Suid-Afrikaners suksesvol uit die mynskag gered.
Die waarnemende provinsiale kommissaris in Mpumalanga, gen. maj. Zeph Mkhwanazi, het die publiek verseker dat wetstoepassingsagentskappe die situasie aktief monitor.
Hy het die publiek ook versoek om die owerhede die nodige ruimte te gee om die situasie te hanteer.
“Alle relevante belanghebbendes, insluitend soek-en-reddingspanne, is tans op die toneel, en sigbaarheid in die gebied is verhoog om die veiligheid van die gemeenskap te verseker,” sê hy.
Sien ook: Verdagtes aangekeer wat glo straatverkopers beroof