‘n Addisionele twee verdagtes is volgens berigte in hegtenis geneem weens die moord op Karin van Aardt in Kaapstad.
Netwerk24 berig ‘n bron het bevestig dat nog twee mans in Langa aangekeer is sedert die arrestasie van die eerste verdagte gister.
Arrestasie gemaak na moord in Kaap op Nelspruit-vrou, 11 Desember, 08:59
‘n Verdagte is aangekeer weens die moord op Karin van Aardt Vrydag naby die Kaapstad-lughawe.
Die 64-jarige afgetrede onderwyser wat in Nelspruit gewoon het, was in die Kaap om by haar seun se gesin te kuier toe sy tydens ‘n slaan- en grypdiefstal doodgesteek is met ‘n mes.
Die 33-jarige verdagte is gister in Langa gearresteer.
Hy word van moord en roof aangekla en sal na verwagting vandag in die Bishop Lavis-landdroshof verskyn.
Die polisie sê nog arrestasies kan moontlik verwag word.
Nelspruit-vrou in Kaapstad vermoor, 6 Desember
Karin van Aardt (64) het net goed gedoen, sy het ‘n hart vir almal gehad en het altyd oral gehelp.
So beskryf haar swaer, Uli Trümpelmann, haar.
Sy is gisteraand in Kaapstad oorlede, na sy met ‘n mes aangeval is.
Volgens Trümpelmann het Karin en haar man, Herman, gistermiddag van KMI-lughawe Kaapstad toe gevlieg om hul kleindogter se agtste verjaarsdagviering by te woon.
“Sy het 17:45 laat weet hulle het veilig geland, maar teen 19:00 het Herman laat weet ons moet bid, daar is moeilikheid,” sê hy.
Hulle het by die lughawe ‘n voertuig gehuur en op pad na Vredenburg waar hul seun, Ruan, woon, by ‘n verkeerslig naby die lughawe gestop.
Die polisie het later aangedui die betrokke plek is ‘n probleem-area.
‘n Aanvaller het Karin se ruit gebreek, haar met ‘n mes begin steek en haar handsak probeer gryp.
Herman het weggejaag, ‘n ander motoris voorgekeer en gevra waar die naaste hospitaal is, en die persoon het aangedui hy moet hom daarheen volg.
Trümpelmann sê die ongevalle-afdeling het haar probeer bybring, maar naderhand gesê haar hart het nie meer geklop met hul aankoms by die hospitaal nie en sy het te veel bloed verloor.
Karin was, ondanks gedeeltelike gehoorverlies ‘n klompie jare gelede, ‘n onderwyser in Bloemfontein.

Die egpaar het later in Bateleur in Mbombela afgetree.
Hul ander seun, Reon van Aardt, is ‘n bekende dieetkundige en musikant in die stad.
Trümpelmann beskryf Karin as baie gelowig.
“Sy was net ‘n ouma wat haar enigste kleinkind se verjaarsdag wou vier.”
Die Wes-Kaapse polisie het intussen bevestig dat die voorval op die hoek van Jakkalsvlei-laan en Jakes Gerwel-rylaan in Goodwood plaasgevind het.
Volgens sers. Wesley Twigg het die verdagte gevlug en is hy nog nie aangekeer nie.
Die saakdossier is na die Nyanga-polisie oorgedra vir verdere ondersoek.
*Die polisie se bevestiging is bygewerk sedert oorspronklike publikasie.




