Die verhoor van Hillary Gardee se vermeende moordenaar is tot Vrydag uitgestel in die Mpumalanga-hooggeregshof in Mbombela.
Hlabirwa Rassie Nkuna (38) word daarvan aangekla dat hy Gardee in 2022 ontvoer en vermoor het.
Sy was die dogter van die adjunkpresident van die EFF, Godrich Gardee.
Sy het by die Nelspruit Plaza verdwyn en is dae later met ‘n skietwond in ‘n bebosde area ontdek.
Laevelder berig die uitstel kom na Nkuna gevra het vir ‘n nuwe regsverteenwoordiger van Legal Aid en ‘n nuwe Sepedi-tolk.
Hy dien reeds twee lewenslange vonnisse uit na hy sy vriendin en haar suster in 2022 doodgeskiet het.
Gardee-moordverhoor begin, 20 Oktober
Die verhoor van Hillary Gardee se vermeende moordenaar het vandag in die Mpumalanga-hooggeregshof in Mbombela begin.
Die 38-jarige Hlabirwa Rassie Nkuna, wat reeds tronkstraf uitdien vir ’n dubbele moord, word daarvan beskuldig dat hy Gardee in 2022 vermoor het.
Gardee was die dogter van die adjunkpresident van die EFF, Godrich Gardee.
Hillary en haar driejarige aangenome dogter het op 29 April 2022 by Nelspruit Plaza vermis geraak.
Haar dogter is later in KaMagugu afgelaai, waar hulle gewoon het.
Hillary se lewelose liggaam is dae later sowat 60 km buite Mbombela in die rigting van Sabie deur bosbouwerkers gevind. Sy het ‘n skietwond aan die agterkant van haar kop gehad.
Drie ander mans is aanvanklik gearresteer maar die sake teen hulle is teruggetrek.
Nkuna was ten tyde van sy inhegtenisneming in Augustus 2022 op parool.
Hy is later, in Mei 2023, twee lewenslange vonnisse opgelê vir die moorde op sy meisie, Pretty Mazibuko, en haar polisiebeampte-suster, Marcia.
Hy het skuldig gepleit dat hy hulle op 15 Mei 2022 doodgeskiet het.
Sowetan berig die staat het destyds gesê dat hy erken het dat hy Hillary op Facebook ontmoet het, wat gelei het tot die persoonlike ontmoeting op 29 April in Mbombela.