Die LUR vir Gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, Jackie Macie, het ‘n beroep gedoen op kerke om sekerheidsmaatreëls op te skerp om hul gemeentelede beter te beskerm.
Dit volg op ‘n derde voorval waartydens kerkgangers beroof is.
In die jongste voorval het ‘n groep van ses gewapende aanvallers sowat 60 mense Vrydagaand tydens ‘n aanddiens in Kwamhlanga aangehou en van hul persoonlike besittings beroof.
Macie sê by monde van die departement se woordvoerder, Moeti Mmusi, die aanvalle op kerke dui op morele verval in die samelewing.
Luister:
Verlede Sondagoggend, op 24 Augustus, is ‘n kerk in Mkhuhlu, in die Calcutta-area van Bosbokrand, aangeval.
Drie gewapende aanvallers het die kerk bestorm en gemeentelede van hul persoonlike items beroof en in een slagoffer se voertuig gevlug.
Verskeie skote is afgevuur, maar niemand is beseer nie.
Kerkgangers is ook op 3 Augustus tydens ‘n kerkdiens in Calcutta aangeval.
Twee gemaskerde mans het hulle met vuurwapens gedreig en skote in die plafon afgevuur.
Selfone, beursies, handsakke en karsleutels, sowel as die kontant van kollekte, is geroof.
Die verdagtes het in een van die slagoffers se voertuie gevlug en dit later naby Marite Trust agtergelaat.
Niemand is tydens die aanval beseer nie.