Jongman verplaas vir spesialis-rehabilitasie met gemeenskap se ondersteuning

Tristan Jansen van Vuuren (20) is vandag vanuit Rob Ferreira-hospitaal oorgeplaas na M-Care om spesialis-rehabilitasie te ontvang, na hy amper drie weke gelede in ‘n baie ernstige motorongeluk ‘n traumatiese breinbesering opgedoen het. 

Sy ma, Amelia Swart, sê dit is alles te danke aan die gemeenskap wat hul BackaBuddy-veldtog ondersteun. 

Die botsing het die middag van 21 Februarie op die R40 in Barberton plaasgevind toe die bestuurder van ‘n Land Rover na bewering voor Jansen van Vuuren se aankomende voertuig ingedraai het. 

Dit het die lewe van die 19-jarige Bianca Nortjé geëis. 

Die ander insittendes is almal beseer. Chaandré Meyer (19), Stephen van der Lith (19) en sy 10-jarige sussie is sedertien uit die hospitaal ontslaan. 

Jansen van Vuuren het egter sedert die ongeluk nog nie sy bewussyn herwin nie. 

Swart sê die vier was sedert hul kleuterskool-dae vriende. 

Tot dusver is R290,000 deur die BackaBuddy-veldtog ingesamel vir Jansen van Vuuren se mediese onkostes wat ondermeer noodsaaklike arbeids-, spraak- en fisioterapie vereis. 

Dié bedrag is egter genoeg vir slegs sowat ‘n maand se sorg in M-Care. 

Swart het die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning om vir haar seun lewensbepalende sorg te bekom, asook hul emosionele ondersteuning en voortgesette gebede. 

Vir navrae kontak haar by 066-268-1081. 

Ondersteun die BackaBuddy-veldtog hier.