Fase 4 beurtkrag kos Mpumalanga sowat R200 m. per dag
Written by Mireille on September 14, 2022
Die provinsiale regering beraam dat fase 4-beurtkrag Mpumalanga tussen R196 miljoen en R276 miljoen per 24-uursiklus kos.
Die LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Vusi Mkhatshwa, het in antwoord op ‘n vraag van die VF Plus gesê dit is tussen R8,2 miljoen en R11,5 miljoen per uur of R49 miljoen tot R69 miljoen per fase per dag wat verlore gaan.
Die grondslag vir die berekening is die aantal ure beurtkrag en die nasionale koste van beurtkrag (R500 miljoen tot R700 miljoen) in 2021 wat aan verskillende fases daarvan toegeken is en is gegrond op navorsing van onder meer die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad.
Volgens die LUR gaan daar tussen R13 miljoen en R19 miljoen per fase per dag verlore in die mynboubedryf, tussen R7,6 miljoen en R10,6 miljoen in handel en R1,4 miljoen tot R2 miljoen in landbou.
Werner Weber van die VF Plus sê duisende werksgeleenthede gaan daagliks verlore en dompel die provinsie en die land dieper in die moeilikheid.
“Dit is onaanvaarbaar dat Eskom se probleme die afgelope dekade goed gedokumenteer is sonder om te verbeter. Die aanstelling van bekwame en goed opgeleide personeel is die vertrekpunt,” sê hy.
“Intussen sal die gebruik van alternatiewe kragbronne met erns benader moet word om verdere fases van beurtkrag te vermy. Instandhouding moet ook prioriteit geniet.
“Dit bly skokkend dat die ANC oor jare gestaan en toekyk het hoe Eskom in duie stort.”
Mkhatshwa sê in sy antwoord verder dat Mpumalanga sy status as die kragopwekkingsentrum van die land wil behou deur bestaande Eskom-infrastruktuur aan te pas vir alternatiewe opwekkingsopsies, insluitende son- en windkrag sowel as groen waterstof en die omskakeling van steenkool na gas.
Die Mpumalanga Groen Ekonomiese-groepering is reeds saamgestel op Mpumalanga se groen ekonomiese ontwikkelingsplan te implementeer.
‘n Ooreenkoms is ook met Eskom aangegaan om deur hul JET-program alternatiewe werksgeleenthede te skep by die Komati-, Hendrina- en Grootvlei-steenkoolkragsentrales wat in die proses is om te sluit.
Die laaste van Komati se steenkooleenhede word hierdie maand nog gesluit en by die ander twee sal dit teen 2025 gebeur.
Fase 1 van ‘n loodsprojek om onder meer ‘n agri-voltaïese-aanleg, wat landbou met kragopwekking kombineer, by Komati te installeer is reeds onderweg.