Buscor-busse brand uit in Barberton

Verskeie Buscor-busse het gisteraand uitgebrand by die Barberton-depot. 

Volgens Philip Minnaar, ‘n raadslid in Barberton, het agt busse totaal uitgebrand en kon nog een wat aan die brand geslaan het gered word.

Die polisie het die totale aantal geaffekteerde busse as tien. 

Die sekuriteitswag het volgens inligting opgemerk die een bus brand, maar hy kon dit nie blus nie en die vlamme het na die naburige busse versprei. 

Minnaar sê die brand het net voor 01:00 begin en binne 15 tot 20 minute ver versprei. Sekuriteitsfirmas en die Barberton-brandweer was gou op die toneel. 

Die polisie sê die oorsaak van die brand is onbekend en ‘n ondersoek is geopen, maar vuilspel word nie vermoed nie. 

Die LUR vir openbare werke, paaie en vervoer in Mpumalanga, Thulasizwe Thomo, sal die toneel besoek. 

Die departement skakel met Buscor-bestuur oor ‘n gebeurlikheidsplan sodat openbare vervoer nie ontwrig word nie.