Arrestasie gemaak na massa-skietery in Pienaar
Written by Mireille on January 13, 2025
Die polisie in Mpumalanga het ‘n 39-jarige verdagte gearresteer in verband met die skietery in Pienaar buite Mbombela wat Saterdag agt lewens geëis het.
Ses mense is op die toneel dood en nog twee – ‘n man en vrou – het in die hospitaal aan hul wonde beswyk.
Nog drie mense, twee mans en ‘n vrou, is tydens die voorval gewond en word in die hospitaal behandel.
Volgens die polisie is een van die slagoffers in een van die twee VW Polo’s gevind wat met koeëlgate op die toneel was.
Die verdagte is gisteraand aangekeer.
‘n Polisiewoordvoerder, luit. kol. Jabu Ndubane, sê hy het ‘n vuurwapen en sowat 13 rondtes ammunisie hy hom gehad.
Luister:
Inttusen eis die African Transformation Movement ‘n deeglike ondersoek.
Zama Ntshona sê polisiestatistiek toon ‘n kommerwekkende situasie in Mpumalanga, met meer as 300 moorde wat in die eerste kwartaal van die 2024/25-boekjaar aangemeld is.
Luister:
RISE Mzansi sê Suid-Afrikaners is nie veilig nie, met massaskietery wat toenemend voorkom, en onwettige wapens wat ‘n rol in hierdie tragiese en gewelddadige verskynsel speel.
Makashule Gana sê daar was tussen 2019/20 en 2023/24 9 073 massaskietvoorvalle of veelvuldige moordvoorvalle.
Luister:
Sien ook: Onsekerheid oor Ramaphosa se bywoning van Mosambiekse presidents-inhuldiging – Radio Laeveld