Die Mpumalanga polisie sê hulle is op soek na ‘n groep van vyf mans wat met pangas gewapen is en na vermoede Sondagaand ‘n vrou seksueel aangerand en ‘n sekerheidswag op ‘n plaas buite Komatipoort vermoor het.
‘n Polisiewoordvoerder, Jabu Ndubane, sê in die eerste voorval het ‘n minibus-taxi om ongeveer 20:00 die aand by ‘n stop-en-ry op die N4 stilgehou.
Die groep mans het uit die niet verskyn en die passasiers het gevlug, sommige deur die taxi se vensters.
Die vroulike slagoffer is seksueel aangerand en later deur ander taxibestuurders gered.
Om ongeveer 21:45 het die eienaar van Greyvan-plaas skote gehoor.
Volgens Ndubane het ‘n groep van vyf mans met pangas een wag op die plaas oorrompel en vasgebind. Hy het sy kollega ontbied en toe die man besef ‘n rooftog is onderweg het hy probeer vlug.
Hy is in die linkerbeen en regter bo-been gewond.
Volgens Ndubane het die aanvallers gevlug sonder om iets te steel.
Met die polisie se aankoms het hulle die swaar gewonde slagoffer ontdek.
Paramedici is ontbied.
Hy is later op die toneel dood.
Geen verdagtes is nog aangekeer nie.




