Botsing eis vier op N4 buite Mbombela

Vier mense is vroeg vanoggend oorlede in ’n botsing tussen twee minibustaxi’s en ’n vragmotor op die N4 tussen Schagen en Sudwala buite Mbombela.

Voorlopige berigte dui daarop dat die vragmotor van agter teen ‘n minibustaxi met ‘n sleepwa gebots het, beheer verloor het, in aankomende verkeer ingery het en ’n tweede taxi wat van Nelspruit onderweg was getref het.

Drie mense in dié taxi is onherkenbaar verbrand na dit aan die brand geslaan het.

‘n Vierde liggaam is in die pad gevind en moontlik uit een van die betrokke voertuie geslinger.

Die LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Jackie Macie, het sy medelye met die naasbestaandes betuig.