SANParke het aangekondig dat dagbesoekers aan die Krugerwildtuin vanaf vandag weer toegelaat sal word.
Besoeke is verlede week tydelik opgeskort te midde van grootskaalse oorstromings na aanhoudende swaar reën.
Die kwotas geld by Malelane, Numbi en Paul Kruger met safari-voertuie wat ingesluit is.
Die noorde van die park bly ontoeganklik.
Die noorde is erger geaffekteer as tydens die vloede van 2000, sê Rey Thakhuli van die wildtuin.
Luister:

Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, het SANParke geloof vir sy proaktiewe beplanning en vinnige optrede tydens die oorstromings.
Geen beserings of sterftes is aangemeld nie:
Luister:
Die wildtuin het ook ʼn verligtingsfonds bekendgestel om beskadigde infrastruktuur ná swaar reënval te herstel.
Volgens Aucamp sal ʼn onafhanklike ouditeur die fonds bestuur en hy doen ʼn beroep op korporatiewe instellings om dit te ondersteun.
Eerste Nasionale Bank gaan R3,7 miljoen skenk om gemeenskappe te ondersteun wat deur die oorstromings in Limpopo en Mpumalanga geraak is.
Dit sal deur Gift of the Givers versprei word.
Verder het die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, die afkondiging van ʼn nasionale ramptoestand ná gure weerstoestande en wydverspreide oorstromings verwelkom.
Sedert laat Desember het swaar reën en oorstromings dele van Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Noordwes getref.
Die departement se woordvoerder, Pearl Maseko-Binqose, sê dis noodsaaklik om voldoende hulpbronne vir hulp- en herstelpogings beskikbaar te stel:
Luister:
Die premier van Limpopo, Phophi Ramathuba, het ook die verklaring verwelkom.
Haar woordvoerder, Ndavhe Ramakuela, sê Limpopo het sedert verlede maand massiewe vernietiging aan infrastruktuur aangemeld:
Luister:
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n oranje vlak 5-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reën in die ooste van Limpopo vandag.
In Mpumalanga sê die premier, Mandla Ndlovu, voorlopige beramings toon vloedskade aan infrastruktuur in die provinsie kan sowat R2,1 miljard beloop.
Swaar reën het 20 lewens geëis en meer as 1-duisend-200 huishoudings geraak. Die meeste damme en riviere is vol.
Luister:
Die provinsiale onderwysdepartement sê skole in die Bosbokrand- en Ehlanzeni-distrikte moet hul diskresie gebruik om te besluit of onderrig voortgaan te midde van grootskaalse oorstromings.
Die departement het skole verlede week in Bosbokrand tydelik gesluit.
Hy sê skoolhoofde moet nou in oorleg met beheerliggame self plaaslike toestande beoordeel om te bepaal of dit veilig is vir leerders en onderwysers om skool by te woon.
Limpopo se Departement van Onderwys sê slegs onderwysers sal vandag vir diens aanmeld om bestek te neem van die impak van die oorstromings. Leerlinge sal na verwagting more weer kan terugkeer skool toe.
Intussen het Limpopo se Departement van Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake bevestig die dodetal na verwoestende oorstromings het tot 18* gestyg.
*Hierdie artikel is opgedateer sedert sy oorspronklike publikasie om inligting oor hekkwotas en die onderhoud met Rey Thakuli in te sluit.





