Aanhoudende swaar reën verhoog risiko van oorstromings en padsluitings

Aanhoudende swaar reën in Limpopo en Mpumalanga verhoog die risiko van wydverspreide oorstromings, vinnig vloeiende riviere en padsluitings. 

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het gister ‘n rooi vlak 10-waarskuwing – die hoogste waarskuwing – uitgereik vir ontwrigtende reën in areas soos Maruleng, Phalaborwa, Giyani, Tzaneen, Letaba, Bosbokrand, Nkomazi en Mbombela. 

 ‘n Weervoorspeller, Abdul Ngcamu, sê 100 mm tot 200 mm is binne 48 uur moontlik in hierdie areas wat reeds versadig is.

Luister: 

Die Departement van Water en Sanitasie sê 14 van Limpopo se 19 damme is nou meer as 100% vol.  

Die woordvoerder, Wisane Mavasa, het inwoners versoek om oorstroomde paaie te vermy.

Luister: ENG MavasaOnLimpopoDams

President Cyril Ramaphosa beskryf die swaar reën in Limpopo as rampspoedig.

Hy het die Mopani-gebied gister besoek om die omvang van die skade en die regering se reaksie te bepaal. 

‘n Seun is vroeër die week in die Mutale-rivier meegesleur en ‘n vierjarige het Woensdag by die Mbaula-nedersetting verdrink.

Luister: ENG RamaphosaOnResidents

Die Departement van Omgewing en Toerisme waarsku dat daar ‘n toename kan wees van rondloper wildediere soos seekoeie en krokodille weens die voortgesette oorstromings. 

Die Minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, sê die situasie in die Krugerwildtuin is diep kommerwekkend. 

Rey Thakhuli, die hoofbestuurder van kommunikasie en bemarking vir die wildtuin, sê dagbesoeke aan die wildtuin is tydelik opgeskort weens die swaar reën.

Veral die noorde word geraak. 

Luister: 

Die Krokodil-, Sabie-, Letaba-, Sand-, Luvuvhu- en Limpopo-riviere het hul walle oorstroom. 

SANParke het sy krisisbestuur protokol ingestel. Dit sluit in die ontruiming van kampe in die noorde, soos Letaba en Shingwedzi. 

Teen vanoggend het SANParke gesê die watervlak van die Letaba-rivier het gedaal en daar is tans geen water in die kamp nie, maar die kamp bly gesluit.

Gaste sal gekontak woord oor die afhaal van hul besittings wat in die kamp agterbly te reël sodra die risikobepalings voltooi is.

Die water oor die Onder Sabie-brug (foto) het effens gedaal, maar die brug bly gesluit. Die riviervlak by die Krokodilbrug het effens gedaal, maar die brug bly gesluit.

Noodreaksiespanne monitor riviervlakke en infrastruktuur, soos paaie en brûe.

Geen ongevalle is in die wildtuin aangemeld nie. 

Nog reën word oor die volgende paar dae in Limpopo en Mpumalanga verwag.

Die weerdiens sê weerstoestande sal na verwagting vanaf Maandag geleidelik verbeter.

Die Mosambiekse Instituut vir Meteorologie het ook ‘n rooi waarskuwing uitgereik vir baie swaar reën in die sentrale en suidelike dele van die land te midde van wydverspreide oorstromings.

Volgens die waarskuwing sal swaar reënval van meer as 100 mm in 24-uur voorkom. Die Mosambiekse owerhede het Donderdag die ontruiming van mense uit sommige laagliggende gebiede in die Gaza en Maputo provinsies gelas weens die risiko van oorstromings.

Honderde inwoners van Djuba, 40 km suid van Maputo, is heeltemal afgesny weens stygende water in die Umbeluzi-rivier. 

In Maputo het die aantal paaie wat deur reën en stygende water oorstroom is, die afgelope dae toegneem, in wat as een van die swaarste reënseisoene in onlangse jare beskou word. 

Luister ook:

Krugerwildtuin beperk dagbesoekers, sluit alle toegang tot Noorde

Rooi vlak 10-waarskuwing vir vandag en môre